Brokkies uit oupa Almero Oosthuizen se dagboek
Almero Oosthuizen van Droogekloof, gebore 1878, het sy herinneringe op sy skoondogter se versoek neergeskryf: die 1885-vloed wat Meiringspoort verspoel het, sy oupa wat in die 1865-droogte die Middelwaterse lemoenboord met vate natgery het, die 1892-perdevrekte wat 14 uit 95 gelaat het, Klaarstroom toe dit nog Pietersburg geheet het, en die droogtes van 1914, 1926 en 1939. Ná sy dood in 1961 in Die Oudtshoorn Courant gepubliseer, woordeliks hier.
Almero Jacobus Hitge Oosthuizen is op 18 Januarie 1878 op Klein Vallei gebore — sy vader het dit Kouwveldt genoem — en is op 29 Oktober 1961 op Droogekloof oorlede. 'n Paar jaar voor sy dood het sy skoondogter Anna Oosthuizen hom gevra om sy herinneringe neer te skryf, met die droogtes veral in gedagte; hoe dit gekom het, is haar eie stuk, Bruid van 1946 het droogte op Klaarstroom leer ken. Die Oudtshoorn Courant het haar uittreksels uit die dagboek onder die opskrif hierbo gedruk, met die subtitel "Klaarstroom — Zeekoegat, 1885/1933". Hulle word woordeliks gegee. 'n Onleesbare woord word gemerk, nooit geraai nie.
Ek is in 1878 gebore, maar my herinneringe begin by die jaar 1885 toe ek 'n seuntjie van 7 jaar was. My vader het die plaas Kouwveldt gehad. Die eigenlike naam was Klein Vallei. Ek het daar groot geword.
In 1885 was dit baie koud en dit het drie dae en drie nagte aanmekaar gereën. Die volstruise het dood gereën. Die reën het so sterk geval dat Meiringspoort se pad totaal verspoel het. Die pad was toe baie laer as nou.
My vader het my vertel, dit onthou ek nog goed, dat dit in 1865 so droog was dat my oupa, wat toe op Middelwater gewoon het, die lemoenboord voor die huis met wa en vate moes natry sodat die bome nie moes verdroog nie. Die enigste plek waar nog water was, was die hoogtes na Kouwveldt by die styl drif.
Boerdery
Die boerdery het bestaan uit saaiery, wingerde, vrugte en volstruise. Op Kouwveldt het my vader ook met perde en beeste geboer. In die jaar 1887 was daar 'n depressie of geldskaarste soos dit toe genoem is. My vader het slagbeeste na Beaufort-Wes gestuur. Die bod vir koeie was £1 en groot osse £2.10.0 tot £3; meel was 15/- per sak, gars 4/6d en jong muile het £5 stuk gekos.
Ons het hard gewerk en moes baie oppassend wees op ons implemente. Ons ploeë was nie soos vandag s'n nie, maar gemaak van hout. Slegs die hoof rysterplaat en die skaar was van yster en as die ploeg 'n klip getref het, het dit dikwels gebeur dat die balk gebreek het.
Ons trekdiere was osse en muile. Slegs oom Klaas Botha het met 'n span donkies geploeg.
Graan is in daardie jare met die sekel, per hand gesny en dan ingery. Die inbring van die gerwe is gewoonlik in die nag gedoen. Die waens is son-onder ingespan en het gery tot die volgende dag 12-uur en dit het gewoonlik 'n hele paar nagte geduur, want daar was op my plaas tussen 600 en 700 sakke gewen. Ons het met behulp van diere gedors. Dit het 'n verdere 14 dae na 'n maand geduur.
Terwyl ons gedors het moes ook vrugte gedroog word. Op Kouwveldt is tot 60 sakke gedroog en daarvoor het ons 10/- (R1) per sak gekry.
Sodra hierdie plaastake afgehandel is, het parstyd aangebreek. Die man wat stook, moes ook met min slaap klaarkom.
Parstyd
Ons oeste moes met die wa na Beaufort-Wes vervoer word. Ons het in daardie jare nie belasting op brandewyn betaal nie en kon by die groot maat verkoop. Pryse het gewissel tussen £16 en £40 per lêer.
Volstruisbloeitydperk
Ons het ook in ons kontrei volstruisboere gehad, hoofsaaklik op die bergplase en ons het maklik £10 vir 'n kuiken uit die nes gekry.
Goed onthou ek een Sondag! Oom Piet, 'n goeie ou heer, het, soos die gebruik was, soms op 'n Sondag die diens in sy eie huis behartig en daar is van 'n preekboek gebruik gemaak.
Op 'n sekere Sondag moes die kuikens pik, en oom Piet het kopers vir hulle gehad. Hy sê toe 'n jong aan om te gaan kyk of die kuikens al uitkom. Terwyl die jong weg is, het oom Piet die godsdiens gehou en toe hy in die middel van die preek was, kom die boodskapper terug. Net daar het hy opgehou, gevra na die [?aantal] kuikens en ongesteurd weer voortgegaan. Materialisme het hier ook sy invloed gehad.
Perdevrekte
Die val van die volstruismark het ook ons kontrei swaar getref, maar 'n ramp wat daaraan gelykstaan, was die groot perdevrekte van 1892. Byna al ons muile en perde het uitgevrek en my vader het van 95 perde en muile, slegs 14 oorgehou. Na hierdie vrekte het die donkie sy tuiste in ons wêreld gekry.
Pietersburg
In vroeër jare was Klaarstroom bekend as Pietersburg. Daar was 'n hotel en 'n besigheid. Dit was die gebou waar mnr. L. van Zyl sy winkel gehad het. Die besigheid het behoort aan R. [?Faesie] & Kie en mnr. Bernhardt was die bestuurder. Jammer om te sê maar daar was mense wat baie gedrink het, sodat mnr. Bernhardt lewensregte van mense gekoop het, en ook 'n plaas in die hande gekry het.
Toe ds. A. G. du Toit op Prins Albert predikant geword het, is die lisensie weggeneem by die hotel.
Brandsiekwet — Rhodes
In 1897 het my vader Kouwveldt verkoop aan mnr. Jan Müller. Ons het toe na Droogekloof, sy ander plaas getrek. In daardie jaar is die brandsiekwet deur Rhodes uitgevaardig. Dit was die enigste goeie ding wat hy in Suid-Afrika gedoen het. Die boere was ontevrede en het sterk teen die Wet geprotesteer en een oubaas het baie geraas „omdat hy dan sy goggas (keds) wat sy skape skoonhou van brandsiekte, nou moes dood dip!"
Toe word Genl. Kemp Minister van Landbou en hy stel gelyktydige dippings in en die siekte is oorwin.
Droogte 1914/'15
Droogtes het baie nagmerries veroorsaak. In die jare 1914/'15 was dit swaar droogte en eers in 1916 het 'n swaar reën 'n einde daaraan gemaak toe 10 duim uitgesak het. Vee is dood en die boere het maar klein troppies oorgehou na die droogte.
Maar daar is altyd mense! en Mense! op die ou wêreld en een vrou het swaar by my kom kla omdat die skape dan nou nie meer vrek nie. „Ja," het sy haar lot bekla, „nou kan ek nie eens meer die dooie skape se velle verkoop om geld te kry vir kos nie!"
Droogte 1926/1929
Maar daar is min mense wat dit meegemaak het, wat die droogte van 26/29 sal vergeet. Drie-en-'n-half jaar het ons geen reën gesien nie. Kos moes aan die mense uitgedeel word omdat daar nie geld was om te koop nie. Die Afdelingsraad het toe in die wyk Zeekoegat, plaaspaaie laat repareer sodat die boere naby hul huis kon werk om te verdien.
Dis in daardie tyd dat die verleggings in Meiringspoort gemaak is sodat die pad bo die hoogwatermerk is.
Toe die reën genadiglik in 1929 kom, het die regering lenings aan die boere gegee om weer skape te koop. Die lening was £200 vir elkeen.
Depressiejare
Vier jaar later, in 1939, het ons weer 'n droogte gehad en boonop depressie. Wol was maar trippens per pond, maar die regering het 'n subsidie van 3d per pond bygegee sodat ons sikspens per pond gekry het.
In daardie jare is die plase in hierdie distrik gekamp, wat die grootste redding vir die veeboer was.
Oupa se dagboek sluit
Die herinneringe sluit af: „Ek het probeer om 'n uiteensetting te gee van toestande soos ek dit beleef het van die jaar 1885 tot 1933. Daar was baie donker tye, maar ook baie ligstrale, maar as ons ons seëninge tel, sal dit baie meer wees as die donker dae."
Mnr. Oosthuizen is in 1961 oorlede.
Wie die dagboek se mense is
Die skrywer se vader — deurgaans my vader — is Ockert Almero Oosthuizen (1836–1922): Kouwveldt was sy plaas, in 1897 verkoop, en Droogekloof die een waarheen die gesin getrek het. Die oupa wat in 1865 die lemoenboord op Middelwater natgery het, is Jan Adriaan Oosthuizen (1816–1882), drie jaar voordat hy Rondabel gevat het — sy kleinseun se herinnering aan hom, uit die tweede hand, is die enigste prentjie van die daaglikse lewe op Middelwater in die 1860's wat hierdie rekord hou. Kouwveldt is Klein Valie No. 182, waarvan die gedeeltes die naam steeds dra as Koude Veld en Kouveld. Die skanderings kan van die dokumentblaaie afgelaai word: die volle bladsy, die linkerhelfte en die regterhelfte.
Wat nie vasstaan nie
Of die 1897-koper Jan Müller die J.C. Muller is wie se seun teen 1919 Klein Valie gehou het, is waarskynlik maar onbewese. Die koerant se datum is onbekend — ná Oktober 1961. Oom Klaas Botha van die donkiespan is heel waarskynlik Johan Nicolaas Botha — Klaas is die noemnaam van Nicolaas, hy was getroud met die dagboekskrywer se tante Susanna Catharina Oosthuizen, en 'n J.N. Botha het in 1884 Vaste Water op Middelwatergrond meegehou — maar die uitkenning rus op naam en verwantskap, nie op 'n rekord wat hom by die ploeg noem nie. En oom Piet van die volstruis-Sondag is te dun benoem om tussen sy baie naamgenote uitgeken te word.
Waaroor hierdie storie gaan
- about Almero Jacobus Hitge Oosthuizen
- about Ockert Almero Oosthuizen
- set on Klein Valie Nr. 182
- set on Drooge Kloof
Bronne
Alles waarop hierdie storie rus, met 'n skakel na die oorspronklike waar een bestaan. Waar 'n verwysing onvolledig is, sê dit so: 'n onvolledige verwysing is 'n navorsingsgaping, nie 'n uitlegprobleem nie. As jou werk hier is en die erkenning verkeerd of dun is, sê asseblief en dit sal reggemaak word.
- Koerant Same page and issue as SRC-585; date [TO VERIFY], after October 1961Scans DOC-0348 (left), DOC-0349 (page), DOC-0350 (right); published verbatim as story STO-0048
- Koerant Die Oudtshoorn Courant, a Saturday, bladsy tien; date cropped from the clipping - AFTER OCTOBER 1961 (her father-in-law is 'wyle') and during a drought then past its third year. [TO VERIFY] the issue dateClipping in the family's papers, 'Joubert' written at its head; scans DOC-0348/0349/0350
- Koerant Same page and issue as SRC-585; date [TO VERIFY], after October 1961Scans DOC-0348 (left), DOC-0349 (page), DOC-0350 (right); published verbatim as story STO-0048
- 'Brokkies uit oupa Almero Oosthuizen se dagboek', Klaarstroom - Zeekoegat 1885/1933 - Die Oudtshoorn Courant Same page and issue as SRC-585; date [TO VERIFY], after October 1961Scans DOC-0348 (left), DOC-0349 (page), DOC-0350 (right); published verbatim as story STO-0048
Navorsingsnotas
Published VERBATIM, same instruction. The extracts corroborate EVT-000211 (1885 flood) and EVT-000284 (1926 drought) from inside a household, and carry five new events, three ownership spans, two residences and the probable identification of oom Klaas Botha (PER-001279). The [?] readings mark genuinely uncertain type; the right-edge column of DOC-0348 is completed by DOC-0350.
[27 Aug 2026] RESEARCH SWEEP: checked, NOTHING ADDED. Its remaining uncited sources reach it through people or farms it shares with other stories - a district valuation roll, a cemetery photograph collection, a set of baptisms - rather than through its own subject. That is the residue story_currency.py describes: one source touching many stories is not many gaps.
Die navorsing agter hierdie bladsy, apart gehou daarvan: gedateerde werksnotas, oop vrae, en wat nog nie uitgemaak is nie.